Passiespel 2015 – Die tradisie leef voort 1


Deelnemers aan die Passiespel van 2015, wat hierdie jaar van 3 tot 5 April uitgevoer word, is reeds vanaf Januarie hard aan die repeteer om te verseker dat hierdie jaar se geleentheid weereens vir elke pelgrim ‘n belewenis sal wees.

Hierdie jaar se tema is “Die Kringloop van die Lewe” en dit word uitstekend uitgebeeld deur die gebruik van simboliese bewegings deur die dansers en akteurs.  Die musiek en sang is weereens van uitstaande gehalte en Mariëtte Pitout het soos altyd ‘n paar verassings wat op die gehoor wag.  Die choreografie, onder leiding van Marquin Sharneck, is opwindend en nuut en gaan die gehoor vasgepen hou in hul stoele – en soms selfs na hul asems laat snak.

Hattingh Davel vertolk die rol van Jesus en word ondersteun deur Annerien Erasmus as die Heilige Gees.

Passiespel

Die produksie, wat oor die afgelope 11 jaar ‘n lewe van sy eie aangeneem het, ontwikkel en groei elke jaar.  Dit gaan van krag tot krag en word elke jaar beter, groter en meer emosioneel soos daar gepoog word om mense weer die ware betekenis en omvang van God se opoffering te laat besef.  Dit is ‘n poging om ‘n hunkering by elkeen te laat om terug te wees in God se arms.

‘n Produksie soos hierdie sou onmoontlik wees sonder die ondersteuning van die gemeenskap.  By voorbaat baie dankie aan elkeen wat ‘n bydrae lewer om hierdie produksie moontlik te maak.

Dankie aan elke ouer, familielid en onderwyser wat hierdie leerders ondersteun, lei en bystaan.  Die akteurs, dansers en sangers is almal skoliere aan die Akademie en moet te midde van ‘n baie besige eerste kwartaal, propvol sport aktiwiteite, akademiese vereistes en so meer, nog elke dag vir ure repeteer aan hierdie epiese vertolking van Jesus se tyd op aarde.  Dit is merkwaardig wat hierdie leerlinge doen en ons bedank elkeen wat so hard werk om hierdie produksie ‘n sukses te maak tot eer en verheerliking van ons Vader wat ons in liefde lei.  Sonder God se genade en krag sal die produksie nie ‘n werklikheid kon wees nie.

Passiespel

Elke jaar word mense geraak deur die boodskap, lewens word hernu en diegene wat aan die produksie deelneem, word vir altyd beïnvloed.  Oud-studente onthou die ervaring as ‘n hoogtepunt in hul skoolloopbaan en ‘n keerpunt in hul geestelike lewens.

Besprekings is reeds oop by Computicket en die kaartjies verkoop beter as ooit.  Bespreek vroegtydig om teleurstelling te voorkom.

Vir enige verdere navrae, kontak die skool op 051 603 0046 of besoek die webtuiste by www.passionplay.co.za of www.artsacademy.co.za.


Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

One thought on “Passiespel 2015 – Die tradisie leef voort