Lady Grey Kunste-Akademie verwelkom ‘n nuwe gesig


Hiermee verwelkom Lady Grey Kunste-Akademie ons nuwe Wiskunde onderwyser, Adriaan Bouwer.  Adriaan gaan Wiskunde aanbied vir graad 8 en 9 asook Wiskunde en Fisiese Wetenskappe vir graad 10.  Ons is geȅerd om hierdie slimkop by ons familie by te voeg en hoop en vertrou hy gaan baie gelukkig by ons wees.

So bietjie oor Adriaan: Hy het groot geword in Harrismith in die Vrystaat. Sy hele gesin is in die onderwys; van sy ma tot sy twee ouer susters. Sy pa werk vir ń organisasie genaamd EWET wat jong entrepreneurs oplei.

Hy het in Bloemfontein studeer, aanvanklik Aktuariële Wetenskap, voor hy die skuif na Opvoedkunde gemaak het.
Hy is baie lief vir sy vakke, Wiskunde en Fisiese Wetenskappe en sien uit om dit aan die studente van Lady Grey Kunste-Akademie oor te dra in 2020 – sy eerste jaar van skoolgee.

In sy vrye tyd ry hy graag bergfiets en stap in die berge. Hy is ook mal oor bord- en kaartspeletjies.

Hy was nog nooit in Lady Grey totdat hy van die opening in die skool se Wiskunde afdeling gehoor het nie, maar hy het gou ń groot waardering ontwikkel vir die landskap en natuurskoon. ”Ek het gehoor ek sal moet leer hoe om forel te vang.”

Hy sê mense wat hy tot dusver ontmoet het van die dorp, en veral die personeel by Lady Grey, was baie vriendelik, warmhartig en gretig om te help.

Hy is baie opgewonde vir die jaar wat voorlê en hy sien uit om die mense en die dorp beter te leer ken.

Adriaan Bouwer

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *